Dankflits

Ons Adventsboom in Kobe

Hierdie tyd van die jaar het min (Suid-Afrikaanse) mense nog lus of tyd vir e-pos lees. Ons doen graag vroeg in 2020 in meer detail verslag oor ons doen en late die afgelope tyd.

Ons adventsboom (foto bo) herinner ons aan die voorreg om met vreugde Christus se koms af te wag. Desember is ‘n baie bedrywige tyd hier, met baie ontmoetings. Dis opwindend, maar ook veeleisend.Ons sal jou gebede in hierdie tyd baie waardeer, veral vir Carina wat dié naweek twee kersfeees-geleenthede vir kinders sal lei. Ook vir vanaand (20 Des.) se Kerssangdiens.

Ons dink met diep dankbaarheid terug aan ‘n baie sinvolle en geseënde jaar, verál ook te danke aan ondersteuners soos jy. Mag jy in hierdie dae uit Christus se oorvloed genade op genade ontvang (Joh. 1:16)!

Met vrede en vreugde,

Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan (jnr)

LEES ASB. DIE ONDERSTAANDE BRIEF UIT DIE MISSIE JAPAN KANTOOR
—————————————–

Beste ondersteuner, 
 
Hier aan die einde van 2019, wil Missie Japan kantoor graag vir al ons getroue ondersteuners hartlik bedank. Dankie vir die geldelike ondersteuning van ons sendelinge. Dankie vir julle opregte belangstelling. Maar ons is veral ook diep dankbaar vir julle volgehoue en getroue gebede. 
 
Die Here het die afgelope jaar weereens die werksaamhede van Missie Japan oorvloediglik geseën. Ons kon finansieël oorleef, te midde van al die uitdagings op soveel terreine in ons land. Dit gaan goed met die funksionering van Missie Japan; ons het onlangs weer ‘n baie sinvolle vergadering van die uitvoerende komitee gehad. Dit gaan goed met ons kerke se
verhouding met die Reformed Church in japan. En dit gaan baie goed met ons sendelinge in Japan!
 
Stéphan van der Watt doen ‘n geweldige groot werk; sy akademiese invloed as professor by die Kobe Gereformeerde Teologiese Seminarium strek al hoe wyer. Maar dis veral ook sy werk binne die kerk in Japan waaroor daar groot waardering is. Die gevaar is dat Stéphan dalk te hard werk, met te veel verantwoordelikhede, juis omdat hy so gewaardeer en vertrou word. Met Carina gaan dit ook goed. Sy speel ‘n al hoe belangriker rol in die tuisonderig van hul kinders, in ‘n nuwe bediening onder kinders met die lekker naam Treasure Hunters, en met ‘n deurlopende gasvryheidsbediening. Dit gaan ook goed met
hull pragtige kinders.
 
Met Elmar en Nadine du Rand gaan dit ook goed; hulle vorder fluks met hul taalstudie. Hulle woon by ook by die Seminarium in Kobe en skakel by die studentegemeenskap daar in. Hulle werk hard, maar hulle gaan ook deur ‘n baie moeilike fase van hulle daar-wees in Japan – die taalstudie is uitdagend, die aanpassing in die Japanese kultuur, die eensaamheid en verlange huis toe… hulle het ons gebede nou meer as ooit nodig. En met Gys en Linda Olivier en hulle twee kinders gaan dit ook baie goed. Hulle hou skool by ‘n Christenskool vir Meisies in die stad Kochi op die eiland Shikoku. Hulle werk word ook hoog op prys gestel deur die Japanese Christene.
 
DV volgende jaar kom doen die Van der Watt gesin weer tuis-besoeke in Suid-Afrika. Hulle sal kom rus, maar ook soveel gemeentes moontlik kom besoek. Ons sien uit daarna om hulle hier te ontvang! Missie Japan beplan om volgende jaar ook enkele afgevaardigdes na Japan te stuur en ons ontvang ook besoekers uit Japan – dit gaan weer ‘n vol jaar vol wedersydse
kontak wees.
 
Missie Japan verwelkom graag ook vir Dr Nico Mostert as die nuwe sekretaris van die kantoor. Mag hierdie Kersgety en die nuwe jaar vir elkeen van julle baie geseënd wees. En ons bid dat die Here sy hand oor hierdie hele onderneming van Missie Japan sal hou. Ons weet dat Hy wat ons roep, getrou sal wees, altyd en oral.
 
Vriendelike groete
Gideon van der Watt en Karisma du Pisanie
(Missie Japan kantoor)