Missie Japan se bestuur
Besoek Voltooid
Bedompig! Die laat-somer hier in Kobe laat ons behoorlik sweet die afgelope tien dae, vandat ons veilig terug is uit ‘n winterige Suid-Afrika.
Ons is bemoedig en aangespoor deur ontelbaar baie ontmoetings en byeenkomste sedert Mei maand. Alhoewel ons julle in ons tuisland reeds baie mis, is ons ook verlig om terug te wees op een plek, by ons huis. Intussen het ons weer begin voete vind en gaan dit goed hier waar ons inval vir ‘n volgende termyn.
Hierdie kort nuusflits se doel is drieledig:
1. Om ‘n kort video te deel, wat ons onlangse bediening en lewe opsom. Gebruik dit gerus in jou kleingroep of gemeente / erediens, as terugvoer oor Missie Japan se werk. Kliek hieronder of by https://youtu.be/XP_0_Wt70n0
2. Missie Japan se bestuur (op die foto hierbo) het ‘n belangrike brief gerig aan ondersteuners soos jy. Lees dit gerus hieronder (of kliek hier) en deel in die terugvoer oor ons SA besoek.
3. Tobie en Annalie de Wet is in die laaste helfte van hulle 3-jaar termyn as brug-sendelinge by RCJ Niihama gemeente in Shikoku. Heelonder deel hulleself grepies uit hulle onlangse bediening.
Verder wil ons vra, bid asseblief saam vir die hervat en voortsit van ons almal se werk in Japan. Dat die Here ons met wysheid en krag sal toerus en self die geleenthede sal bly voorsien om vreugdevol Sy lewende hoop hier uit te leef.
Ons waardeer jou omgee en saam-stap, saam-bid vir ons. Dis nodig.
Meer volledige nuus en foto’s volg in Oktober, hou die spasie dop!
Met groot waardering,
Stéphan, Carina en gesin
NUUSBRIEF
19 September 2024
MISSIE JAPAN: NUUSBRIEF
Dit is skaars 2 weke gelede nadat ons afskeid geneem het van die Van der Watt gesin. Hulle was vir 3 maande in Suid-Afrika vir ‘n welverdiende tyd van verlof, die versterking van familie- en vriendskapsbande, sowel as besoeke aan verskeie gemeentes en ondersteuners regoor die land. Net ‘n week voordat die Van der Watts teruggekeer het, het die groep van 6 lede van die RCJ se Diakonale komitee ook terug vertrek na Japan. Hulle was hier in Suid-Afrika op ‘n 10dae lange Diakonale studiebesoek. Dit was inderdaad ‘n besige, maar heerlike tyd!
Hierdie kort nuusbrief se doel is juis om ons ondersteuners op hoogte te bring van al die verwikkelinge hier by Missie Japan asook om terugvoer te gee oor besluite wat geneem is tydens ons Algemene Jaarvergadering wat einde Julie in Stilbaai plaasgevind het.
Eers meer oor die besoeke. Ons reëling is dat ons sendelinge elke 3 jaar vir ‘n tuisbesoek terugkeer na Suid Afrika. Hierdie besoeke is tweeledig. Die eerste oogmerk is om so veel as moontlik ondersteuners te besoek, gevestigde verhoudings te verdiep, terugvoer te gee en te getuig oor hulle bediening en lewe en werk in Japan. Dit is natuurlik net so belangrik om ook in hierdie tyd nuwe ondersteuners te nader om die werk in Japan te ondersteun. ‘n Tweede, maar uiters belangrike oogmerk is natuurlik dat hulle veral ook kan rus en weer hulle familiebande hier plaaslik kan verstewig. Stéphan se ouers is nie meer jonk nie en daarom is elke besoek kosbaar vir hulle as familie.
Stilbaai het weer soos in die verlede gedien as basis vanwaar verskeie besoeke aan gemeentes regoor Suid Afrika gedoen is. In hierdie tyd het Carina nog steeds met groot toewyding ook die tuisonderrig van hulle vier kinders voortgesit. Ons het so baie versoeke gehad vir besoeke aan gemeentes, maar ons vertrou dat julle sal verstaan dat daar gewoon in 3 maande net nie tyd was om by almal in persoon aan te doen nie. Maak gerus gebruik van Stéphan en Carina se aanbod om via Zoom tydens ‘n erediens in te skakel vir ‘n gesprek met die gemeente. Ons gebruik die afgelope tyd hierdie tegnologie met groot vrug en die reikwydte daarvan is net soveel groter.
Stéphan het tydens die 3 maande in Suid-Afrika by verskeie gemeentes opgetree en groepsbyeenkomste gehou. Soms was dit selfs ook moontlik vir die hele Van der Watt-gesin om van hierdie besoeke saam te doen indien die logistiek dit moontlik gemaak het. Stéphan het ook in hierdie tyd verskeie kongresse en ander gespreksgeleenthede bygewoon. Een so geleentheid was die konferensie oor diakonaat wat by die Universiteit van Pretoria aangebied is. Tydens hierdie geleentheid het Stéphan ‘n akademiese artikel voorgelê en ons vriende uit Japan kon ook daar iets deel van hulle ervaring in Japan wat betref diakonale werk.
Dan was daar die studie-besoek van die RCJ Diakonale komitee. Die groep van 6 lede het bestaan uit ‘n leraar, ‘n dosent, ‘n sielkundige en 3 studente. Die Diakonale komitee van die Reformed Church in Japan (RJC) is al vir baie jare ook finansieël in vennootskap betrokke by verskeie projekte in die NGK Vrystaat en Weskaap se sinode-streek.
Verder het Missie Japan se bestuur einde Julie ‘n baie geslaagde algemene jaarvergadering gehou te Stilbaai. Met Stéphan, Carina en hulle kinders hier was dit ‘n tyd van vergader, saam besin, saam bid en saam onderskei vir die toekoms. Dit was natuurlik ook tyd van ondersteun en saam dankbaar wees vir die Here se getroue goedheid en voorsiening oor baie jare. Ds. Tobie en sy vrou Annalie de Wet is tans in Niihama in Japan en het dus via Zoom ingeskakel vir die vergadering
Ons het ook tydens ons vergadering in Stilbaai gekyk na Missie Japan se finansies. Dit is hier waar ons net verstom staan oor die Here se voorsiening – ook deur julle as ondersteuners. Ons is diep dankbaar vir julle getroue ondersteuning. Die ekonomie is traag en in Japan word die lewenskostes baie duurder omdat inflasie daar ook sy kloue ingeslaan het. Ten spyte van dit kon ons ‘n nuwe begroting goedkeur en ook besin oor die moontlikheid om ‘n tweede sendeling paar na Japan te stuur.
Hier is ‘n kort opsomming van die belangrikste besluite wat geneem is:
- Tobie en Annalie bly in Japan tot die einde van hulle 3 jaar tydperk (middel 2026) waarna hulle na Suid-Afrika sal terugkeer. Missie Japan is verantwoordelik vir hulle repatriasie en herinskakeling hier in SA.
- Die werksaamhede van MJ in samewerking met die Ring van Shikoku (waar die De Wet’s werksaam is) is vervat in ‘n nuwe samewerkingsooreenkoms wat in die finale stadium van finalisering is. Hierdie ooreenkoms bevestig ons verbintenis aan mekaar en die werk in Japan en dui ook die pad aan hoe ons te werk gaan met die beroeping van nuwe sendelinge na Japan.
- Daar is ‘n versoek van die Ring van Shikoku om met die vertrek van die De Wet’s (wat tans as brug-sendelinge dien) ‘n nuwe sendeling paar na Japan te stuur. Die Here het tydens ons vergadering hierdie versoek herbevestig en daar is besluit om voort te gaan met die werwing van ‘n tweede sendeling paar vir Japan in samewerking met die Ring van Shikoku. Die MJ kommissie wat die werwing van nuwe sendelinge sal doen, sal gelei word deur Ds Gawie Gouws van Swellendam. Meer inligting sal later volg.
- Daar sal DV in 2025 weer ‘n besoek aan Japan gebring word waartydens formele gesprekke gevoer sal word oor die nuwe samewerkingsooreenkoms wat ook die beroeping van ‘n nuwe sendelingpaar sal insluit.
- Volgehoue ondersteuning deur gebede en finansies.
- Getroue meelewing met ons sendelinge in Japan (e-posse, WhatsApp boodskappe, oproepe, ens.)
- Hulp met die besoeke, gasvrye ontvangs, skep van geleenthede vir kontak, gesprekke, vervoer en verblyf, en etes ens.
- Volgehoue voorbidding vir die Van der Watts en die De Wet’s se bediening, werk en lewe.
- Spesifieke voorbidding vir Niihama gemeente.
- Die proses om ‘n tweede sendeling paar te beroep vir werk in Japan saam met die Ring van Shikoku.
Dr Nico Mostert (Sekretaris: Missie Japan)
Grepies uit Tobie en Annalie de Wet se onlangse bediening.
Liewe Vriende,
Net ‘n bietjie terugvoering:
Eerstens, ons beide se optrede en praatjie oor geloof en sending van Maandag by die Shikoku Ring Vrouebyeenkoms:Alhoewel ons beide baie gespanne was, ook tydens die praatjie, het dit tog heel goed afgeloop en het ons positiewe terugvoering gekry. Dankbaar en verlig.
‘n Briefie van Japannese vriende:
Liewe Annalie en Tobie
Hallo. Baie dankie vir jou maklik verstaanbare, maklik hoorbare en warm boodskap gister. Ek het via Zoom deelgeneem.Dankie vir so ‘n wonderlike tyd wat ons saam kon deurbring. Y en M
Tweedens, is ons regtig opgewonde oor M san wat ‘n tyd gelede vir die heel eerste keer in haar lewe haar voet in ‘n kerk gesit het. Gister het sy gekom om te begin om saam met ons Bybelstudie te doen.
(Dit is die normale pad wat geloop word om “soekers” te lei tot geloof en om gedoop en lidmaat te word. Dit is gewoonlik ‘n lang pad wat selfs ‘n paar jaar kan duur …).
‘n Epos van M san:
Goeienaand. Dankie vir vandag se Bybelstudie aan die hand van die Westminster Korter Kategismus. Ek het op my eie manier aangegaan en verder studeer terwyl ek na die Bybel gekyk het. Ek het besef ek moenie net die Bybel lees nie. Terwyl ek na die konteks kyk moet ek mooi nadink oor die betekenis van God se woorde in die Bybel. Dit is God se leiding, nie waar nie. Ek hoop om julle volgende week weer te sien. M
Laastens, twee of wat Sondae gelede daag ‘n jong Taiwanese vrou met haar seun by die erediens op. Sy en haar man is beide Christene en het ook in Amerika gewerk. Hy wil egter nie na ‘n Japannese kerk kom nie. Sy is ‘n spontane persoonlikheid en het verlede Sondag weer gekom en selfs ‘n Christenvriendin saam gebring.
Alhoewel ons nog dag en nag verkoeling gebruik, skyn die weer stadig maar seker te draai. Dankbaar
Seëngroete
Tobie en Annalie