Balans tussen werk en rus

Beste Stephan,

Japan is—verál na die tweede wêreldoorlog—bekend vir sy toegewyde ‘korporatiewe krygers’: werknemers wat bereid is om buitengewone hoeveelhede tyd en energie aan hulle maatskappye toe te wy. Oor die afgelope paar dekades het die land egter geleidelik begin oorbeweeg na ’n gesonder verstaan van die balans tussen werk en persoonlike lewe, met toenemende aandag aan rus, gesinstyd en geestelike welstand. Verbasend genoeg lyk dit nou asof die pendulum weer begin terugswaai.

Sommige jonger, ambisieuse werknemers bevraagteken nou weer die klem op werk-lewe-balans en redeneer dat ’n mens bloot harder—én langer—moet werk om vooruit te kom (lees meer). Dit het immers ná die oorlog verstommend goeie uitkomste opgelewer! Ten minste, ekonomies gesproke. Totdat die vooruitgang-borrel gebars het in die 1990’s …

Die Japannese regering het onlangs opnuut meer ruimte begin laat vir maatskappye om oortyd werkery toe te laat. Hierdie debat speel af teen ’n ontnugterende agtergrond: vergoedingseise wat verband hou met karōshi—sterftes en ernstige siekte as gevolg van oorwerk, of meer letterlik: om jouself dood te werk—het in 2025 ’n rekordgetal van 6212 bereik. In pas hiermee het die Eerste Minister Sanae Takaichi self onderneem om te “werk, werk, werk, werk en werk”! Sy het egter self intussen ook onder openbare kritiek deurgeloop oor haar buitengewoon intense werkskedule, wat bitter min ruimte laat vir slaap en rus (lees meer).

Maar wat het dit alles met sendelinge se werk in Japan te doen? Dalk meer as wat ’n mens sou dink.

Ons het in 2009 Japan toe gekom (en ons voorgangers al in 1974)—as verteenwoordigers van ondersteuners soos jy—om hier te werk. As jy wonder waarmee ons ons die afgelope jare besig gehou het, kliek gerus hier. Sendingwerk vra onvermydelik opoffering. Ons hoop egter om nog lank hier getrou te bly dien. Daarom moet die opofferings wat ons maak ook volhoubaar wees. Om aan te hou werk, moet ons ook aanhou rus. Dit klink vanselfsprekend. Maar in die praktyk is dit nie altyd so eenvoudig nie.

Ons Westerse aannames oor vakansies, gesinstyd, grense en rus strook nie altyd gemaklik met Japannese verwagtinge rondom werk, toewyding en beskikbaarheid nie. En Japannese kerke is natuurlik ook deel van die Japannese kultuur. Ons verstaan van wat nodig is vir volhoubare langtermyn-sendingwerk, kan daarom soms bots met verwagtinge oor wat ’n toegewyde leraar, sendeling of kerklike werker bereid behoort te wees om op te offer.

Ons leer steeds hoe om hierdie kreatiewe spanning te hanteer. Ons wil onsself heelhartig gee vir die werk wat God aan ons in Japan toevertrou het. Terselfdertyd is ons oortuig dat behoorlike rus deel is van dit wat ’n leeftyd van bediening moontlik maak. En dalk is deel daarvan om te leer rus, eenvoudig om te onthou wat God reeds van ons weet: …want Hy, Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons maar stof is” (Psalm 103:14).

Ons almal is brose skepsels, nie masjiene nie. Om ons beperkinge te erken, beteken nie dat ons minder toegewyd is nie; dit gee eerder erkenning aan hoe God ons gemaak het—en hoe afhanklik ons van Hom is. Ons deel hierdie ervaringe en gedagtes terwyl ons deeglik daarvan bewus is dat baie (indien nie die meeste nie) leraars in Japan nie die ‘luukse’ het om behoorlik verlof te neem nie. Dit is hoofsaaklik weens ’n tekort aan gemeenteleraars, maar ook weens ander komplekse kulturele faktore.

Met dit alles in gedagte, het ons hierdie somer ’n besonder geseënde ruskans by Takayama (in die Sendai-omgewing) geniet—’n vakansieoord wat reeds vir die afgelope 138 (!) jaar daaraan toegewy is om ’n plek van rus vir sendelinge en hulle gesinne te bied. Saamkuier, prettige aktiwiteite en gemeenskaplike werksdae—insluitend die uitroei van hardnekkige bosse en onkruid en allerlei ander handearbeid om hierdie sending-rusoord in stand te hou en te versorg—was alles deel van die pakket. Boonop het ons ook ‘n hele paar slange raakgeloop … en een moes in die slag bly (foto onder).

Belangriker was egter die fokus op geestelike vernuwing en die verdieping van verhoudings met mede-sendelinge. Ons het nuwe vriendskappe gebou en oues hernu met kollegas van regoor Japan en van oral oor die wêreld.

Intussen is ons terug in Kobe, gereed om ’n volgende termyn te dien—bemoedig en verkwik. Ons dogter Annlie het met universiteit in die Chiba-omgewing begin en geniet hierdie nuwe lewensfase terdeë. Baie dankie vir elkeen se gebede en ondersteuning. Ons staan telkens verstom oor die manier waarop God voorsien deur elke medewerker!

Elkeen se gebede en ondersteuning maak ons hande en harte sterk. Baie dankie!

 

Vrede en vreugde, in Christus.

Stéphan, Carina; ook namens ds. Tobie en Annalie de Wet (RCJ Tokushima-Wes)

Aktiwiteite @Takayama

Erediens, Biduur, Kuier EN MEER

Dosente en studente byeen @KRTS

Maandagaand het ons heerlik saam gekuier met van ons studente wat pas teruggekeer het van hulle somer-internskappe regoor Japan. Dit was wonderlik om te hoor hoe die Here hulle geseën en gebruik het, al het baie van hulle ook getuig hoe ontnugterend moeilik evangelisasie is in die moeras van Shintoïstiese en Boeddhistiese kulturele gebruike, (verál) in die plattelandse dele van dié fassinerede land.

KRTS staan tans voor verskeie uitdagings wat personeelveranderinge betref, om uiteenlopende redes. ’n Hele generasionele oorgang lê om die draai. Tog het God ons geseën met besonder toegewyde dosente—byna 20 in totaal, van wie die meeste ook voltydse predikante is—asook studente wat hulle heelhartig aan hulle studies en opofferende betrokkenheid by kerklike bedieninge wy. Daarvoor is ons diep dankbaar en kyk ons (bly)moedig vorentoe.

Dit bly egter ’n tyd van spanningsvolle en ingrypende uitdagings binne die breër liggaam van Christus in Japan, sowel as by teologiese opleidingsinstellings regoor die land. Ons vra daarom vir julle toegewyde en biddende ondersteuning terwyl ons met hierdie bedieninge voortgaan en deelneem aan die uitvoering van Christus se Groot Opdrag (Matteus 28:16–20): “en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Getuienis uit Tokushima

Tobie en Annalie de Wet, ons mede-sendelinge wat sedert April 2026 die Gereformeerde Kerk in Japan (RCJ) se Tokushima-Wes-gemeente bedien, deel die volgende getuienis van Chinatsu (met haar toestemming uit Japannees vertaal):

Ek is in 2023 gedoop. In ons gesin is ek en my pa Christene. My pa is gedoop toe hy jonk was, maar omdat hy later baie besig geraak het met sy werk, het hy vir baie jare nie kerk toe gegaan nie. Daarom het die kerk én Jesus Christus vir my gevoel soos dinge wat deel is van ‘n vêraf land – ver verwyderd van my eie lewe.

Voordat ek God leer ken het, het ek die lewe baie moeilik gevind. Dit het gelyk asof die mense rondom my dit geniet om mooi en modieus aan te trek, terwyl ander drome gehad het en met moed nuwe wêrelde betree het. Maar ek was nie een van hulle nie. Van kleins af het ek met gevoelens van minderwaardigheid geworstel. Ek kon myself nie sondermeer liefhê nie en het lank geleef met die wens dat ek op een of ander manier kon verander. Tog was daar selfs te midde hiervan een bron van hoop: om te sien hoe my pa geleidelik begin verander het nadat hy weer kerk toe begin gaan het. My Pa was nog altyd streng, maar mettertyd het hy ’n sagmoedige en liefdevolle pa geword wat opreg na my gevoelens geluister het. Ek het niks van die Christelike geloof geweet nie, maar een ding het ek onmiddellik verstaan: “My pa het ’n vriendeliker mens geword omdat hy kerk toe gaan!”

Tydens die pandemie het ek alleen gaan woon op ’n plek ver van my tuisdorp af. In ’n omgewing waar ek niemand geken het nie, het ek ongeveer ses maande lank bloot heen en weer tussen my huis en my werk beweeg. Ek het ’n diepe eensaamheid ervaar wat selfs die musiek en reis waarvan ek so baie gehou het, nie kon wegneem nie.

Totdat ek op ’n dag ‘n emosionele breekpunt bereik het. Ek het gewonder: “Is daar dalk ’n gedeelte in die Bybel wat my uit hierdie pynlike gevoelens kan red?” Ek het op die internet begin soek en op ’n video afgekom wat 1 Konings 19 bekendgestel het. My pa het ’n tyd tevore vir my ’n Bybel vir my verjaardag gegee, maar dit het tussen my goed bly lê en ek het dit nog nooit oopgemaak nie. Ek het dit uitgehaal en na daardie Skrifgedeelte geblaai.

“Staan op en eet, want die pad is te veel vir jou.” Elia het uit vrees gevlug. Liggaamlik én emosioneel uitgeput, het hy selfs gebid dat hy eerder moet sterf. Toe ek hierdie woorde lees wat God tot hom gespreek het, het my hart gebewe en het ek gevoel asof ek wou huil. Ook hier in Japan is daar ’n liefdevolle Wese wat nie vir my sê: “Jy moet harder probeer” nie, maar eerder: “Jy moet rus.” Dit was hoe ek God deur die Bybel vir die eerste keer werklik ontmoet het.

Daarna het ek my moed bymekaargeskraap en by ’n kerk se deure ingestap. Dit was die kerk waarvan my Pa my vertel het. Ek was onseker en angstig, maar die persoon wat voor my gesit het, het vriendelik vir my gewys waar om die Skrifgedeelte te vind. Toe ek die kerk verlaat, het verskeie mense na my toe gekom, met my gesels en opreg belang gestel in my. By ’n ander geleentheid het iemand langs my kom sit en hulle getuienis met my gedeel. Ek het ook bejaarde mense gesien wat met vreugde en oorgawe lofliedere sing. Terwyl ek na hulle gekyk het, het ek begin dink: “God bestaan regtig.”

Stadig maar seker het ek al hoe meer kerk toe begin gaan. Selfs op dae wanneer ek ná werk heeltemal uitgeput was, het kerk toe gaan my hart gevul en my nuwe krag gegee om te leef. God het vir my ’n gemeente gegee waar mense my bemoedig en saam met my geëet het. Voorheen het ek altyd te midde van beproewings gehuil, maar geleidelik het ek verander in iemand wat kon sê: “God is by my, daarom sal alles sekerlik regkom!”

Soos Jesus in Johannes 7:37–39 sê: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom.” My hart was vir ‘n lank tyd so droog soos ’n droë spons. Maar God het die water van die lewe in my hart uitgegiet totdat dit oorgeloop en my heeltemal gevul het. God het vir my ’n plek gegee waar ek behoort.

Gebedsversoeke

VIR TOBIE EN ANNALIE

1) Dankbaarheid, elke dag net dankbaarheid dat ons nog hier in Japan kan wees, gesond, geseend, goed-versorg, geliefd, deel van ons Kerk se Missie in Japan, vir almal se ondersteuning en meelewing.

2) Voorbidding vir die Bediening van die Woord elke Sondag en Pastorale versorging van Tokushima-Wes lidmate, vir elke Woensdag biduur en bybelstudie, vir ons geestelike groei tot ons eenheid in Christus (Efesiërs 4).

3) Voorbidding vir die gemeente se hart, visie, passie vir en uitreik na die wat buite is, in elkeen se onmiddelike omgewing, familie en vriende en ook kinders en kleinkinders wat nie meer deel van die kerk is nie.

VIR STEPHAN, CARINA EN GESIN

1) Dank die Here vir ons gesondheid, lewenskrag en die afgelope tyd van verlof waar ons en ons kinders (verál) saam met baie vriende kon uitspan, kuier en groei.

2) Bid saam vir die Here se leiding en sorg in die nuwe kwartaal van tuisonderrig. Cornelius (17) is hard besig met eksamen voorbereiding. Ons verken saam met hom universiteits-opsies in die maande wat kom. Annlie se aanpassing by Tokyo Christian University.

3) Bid saam vir ons betrokkenheid by ons plaaslike RCJ Kita Kobe gemeente, om lidmate toe te rus vir hulle Christelike getuienis in hulle families, by die werk ens. Bid veral vir Carina se Sondagskool lering en gasvryheidsbediening, en vir Stéphan se klasgee, toerus van teologiese studente, en preek geleenthede by drie ander gemeentes (RCJ Nada, Takarazuka en Sakai Mikuni) in September.

Iets van alles …

TEISTERING ?!

’n Ernstige saak op ’n ligter noot

#Teistering. Dis een van daai gonswoorde wat ’n mens deesdae baie hoor — en al hoe meer ook in die kerk in Japan.

Die RCJ fokus reeds die afgelope dekade ernstig op hierdie netelige kwessie en probeer om sowel lidmate as leraars toe te rus en meer bewus te maak van die soort optrede, woorde en gedrag wat as teistering beskou kan word.

Die Japannese samelewing het intussen nogal ’n besondere talent ontwikkel om vir elke vorm van teistering ’n naam te gee. Die regering fokus formeel slegs op ’n handjievol hoofkategorieë, soos magsteistering (power harassment), seksuele teistering en teistering wat met swangerskap en kindersorg verband hou. Maar in die alledaagse Japannese taal het die lys van dinge wat op ‘-hara’ (Japannese afkorting vir ‘teistering’) eindig, aansienlik langer geword. Afhangende van watter lys ’n mens raadpleeg, kan jy tientalle daarvan teëkom. Net wanneer jy dink jy het die woordeskat onder die knie, duik daar nóg ’n ‘-hara’ op!

En die afgelope somer het daar toe nóg een na vore getree — of dalk moet ek eerder sê: sy bene gewys. As gevolg van die ekstreme somerhitte, is sommige mans toegelaat om met kortbroeke werk toe te gaan. Maar baie jonger vroue het gesê dat hulle dit onaangenaam of selfs “grillerig” vind om by die werk na middeljarige mans se harige bene te moet kyk. Ontmoet ‘sunehara’ (すねハラ) = beenhaar-teistering — die beweerde ongemak wat veroorsaak word wanneer iemand na mans se harige bene moet kyk. Ja, blykbaar kan selfs jou skene jou deesdae in die moeilikheid laat beland! (lees meer)

Gelukkig kon ek hierdie somer nog ongehinderd my rustyd in ’n kortbroek geniet … weliswaar ver van die kantoor af! 🙂 (hieronder is ‘n komiese weergawe, te danke aan ChatGPT)

Dis herfstyd, oestyd in Japan!