Samelewing en Godsdiens in Japan
日本の社会・宗教

Japan is ‘n bedrywige samelewing en ‘n veerkragtige nasie met merkwaardige ambisie en vermoëns. Die snelverouderende bevolking het tans 125 miljoen mense, waarvan 30% ouer as 65 jaar oud is en omtrent 90% in stede woon. Vir die Japannese is “god” nie ‘n persoonlike God nie, en godsdiens nie ‘n norm vir jou lewe nie. Baie Japannese het nogtans klein Shintoïstiese aanbiddingsruimtes of Boeddiste-altare in hulle huise. Hulle is skepties oor geloof in alleenlik één godsdiens of godheid, en krities oor só ‘n oortuiging.

Shintoïsme is die tradisionele godsdiens van Japan. Dit bestaan uit die aanbidding van die natuur asook voorouers. Dit is opvallend dat meeste mense Shinto-rituele by geboorte volg, maar Boeddiste-rituele ná die dood. Dit kom voor asof materialisme óf ateïsme die ware, alledaagse godsdienste van die Japannese is. In hierdie konteks, met ‘n Christen-minderheid van ongeveer 1% en kerke met gemiddeld 30 lidmate, bied getuieniswerk oor Jesus Christus as die enigste weg na verlossing, enorme uitdagings. Maar, ons word geroep om ook híér te getuig van die lig van Jesus Christus.