Gestuurdes se werk en lewe
派遣された者の働きと生活

Die Van der Watt-gesin se betrokkenheid by die RCJ het begin in April 2009, dus 15 jaar gelede. Hulle is via Missie Japan na Shikoku-eiland gestuur. Hulle rol was om 19 klein gemeentes te ondersteun en toe te rus, en om op ‘n manier om op te volg op die pioniersrol van ds. Tobie en Annalie de Wet wie se werk 50 jaar gelede (1974) in Japan begin het.

Stéphan en Carina het baie geleer oor die uitdagings en vreugdes van die liggaam van Christus in plattelandse Japan. Hul bedieningsfokus was op RCJ Tokushima-gemeente, waar hulle ses en ‘n half jaar gewoon het. Carina en nog ‘n kerkleier het ‘n geseënde bediening met kleuters begin, genaamd Happy Kids. Deur God se genade het die bediening wonderlik gegroei, 14 jaar nadat Carina dit geïnisieer het.

Die fokus van die Van der Watt’s se bediening het later verskuif na die Westelike ring, gesentreer in die Kobe-Osaka-Kyoto omgewing. Stéphan is in 2019 as leraar van dié ring aanvaar. Hy werk ook plaaslik saam met Kita Kobe-gemeente, waar Carina verál leiding neem met die kinderbediening, Sondagskool en betrokke is by die vroue van die gemeente. Sy het al 13 jaar van ondervinding as tuisskolende ma opgebou – die uitdaging en seën van ‘n drietalige opset bly haar passie en roeping. Carina se (aanlyn) Engelse klasse, die gereelde huisvesting van Japannese vriende en buitelanders en haar gasvryheid open deure vir die oordra van die evangelie van hoop na vele.

Sy bly ook nog aktief studeer aan Japannees, ‘n lewenslange taak. As jy haar in haar aftyd nie aan die lees vind nie, is sy waarskynlik aan die draf.

Stéphan se primêre verantwoordelikheid is as dosent in missiologie sowel as pastorale teologie en sorg, by Kobe Reformed Theological Seminary (KRTS). Daardeur is hy direk betrokke by die toerusting en vorming van kerkleiers wat fokus op die evangelisering van die 99% van Japan se bevolking wat nog nie vir Christus ken nie. Normale dae by die kweekskool begin vroegoggend met ‘n kort Bybelboodskap en gebedsbyeenkoms, gelei deur studente. Tussen klasse is daar daagliks ‘n formele kapeldiens waar dosente meestal preek.

Aangesien KRTS beskou word as die eerste linie van die RCJ se getuieniswerk, strek studente se opleiding veel dieper as akademiese inhoud. Dit gaan oor die holistiese vorming van gebalanseerde leiers. Teen die tyd dat ‘n student aan KRTS gradueer, het hy/sy baie meer geleenthede gehad om in die openbaar te praat en dienste te lei as wat studente by meeste soortgelyke kweekskole elders het. Die dag-tot-dag ritme van voorberei en aanbieding van lesings – in Japannees – bly ‘n groot uitdaging vir Stéphan. Boonop is daar ‘n baie geleenthede vir bedieninge in die wyer kerk, deur middel van preke, die aanbied van seminare oor temas soos huweliksverryking, of die lei van werkswinkels oor pastorale sorg temas, individuele berading en meer. Sport en bergklimuitstappies saam met hul kinders, asook familie-kampe bring balans in sy lewe.

In April 2023 is ds. Tobie en sy vrou Annalie de Wet (ná hulle aftrede opnuut) gestuur na Shikoku-eiland vir drie jaar van bediening. Hulle doen belangrike maar moeilike werk in die stad Niihama met uiters min Christene. Die De Wet’s hoop ook hulle bediening kan ‘n brug bou om die weg te baan vir jong sendelinge wat hulle kan opvolg. Al stap hulle jare stewig aan, ry hulle steeds ywerig fiets.