Beste vriend/vriendin,
Hierdie tyd van die jaar het min (Suid-Afrikaanse) mense nog lus of tyd vir e-pos lees. Daarom net enkele sinne oor ons werk en lewe, in die hoop dat dit kort (en kragtig) genoeg is!
In November-maand het…
- Carina ons huis se adventsboom gemaak tot laat in die aande … ons vier nou elke dag met groot verwagting, die vreugde van Christus se koms.
- Gideon van der Watt en Elsabe du Plessis se besoek ons regtig geseën. Ons kon ons harte deel met hulle, en is bemoedig op verskeie maniere. Onder hulle leiding, saam met ons RCJ kollegas, is die besluit amptelik geneem dat ons RCJ Tokushima se beroep aanvaar, en daarom nie sal skuif nie. Hieroor is ons baie bly en dankbaar. Lees gerus hier (hoe Gideon beskryf) wat die redes is hiervoor.
- Lodewyk een jaar oud geword … engel in die dag, ontroosbaar in die nag (lees: ons slaap maar min!), maar ons geniet hom gate uit!
- Kei en Kazumi Kataoka (RCJ Tokushima predikantspaar) aanskou hoe Yuna, hul eersteling, gedoop is.
- ons weer afskeid geneem van (pa) Tobie en (ma) Annalie. Hulle het moeg, maar vergenoegd terug gekeer na Suid-Afrika. Lees hier die verslag oor hulle 3 maande ondersteuningswerk in die rampgebied. Hulle sal voortaan steeds op nuwe maniere by Missie Japan betrokke
bly. Lees hier hoe Gideon dit uiteengesit het. - ons ‘n huweliks-verrykingseminaar bygewoon wat deur Tobie en Annalie gefasiliteer is. Carina het ook ‘n inleidende stuk geskryf oor ons eie benadering tot familie-wees en deelnemende ouerskap, wat ons saam aangebied het in een sessie. Lees dit hier…
- ons ‘n groter (tweedehandse) motor teen ‘n billike prys gekoop danksy Missie Japan se ondersteuning, wat die grootste deel van die koste gedra het. Dit is uit en uit danksy ondersteuners se volgehoue bydraes dat sulke dinge moontlik is, en ons sê uit ons harte uit BAIE dankie!
In Desembermaand lê ons besigste tyd van jaar voor met baie ontmoetings met vriende om iets van Advent met hulle te deel, preke by verskillende gemeentes, Kersfees eredienste ens. Dis opwindend, maar ook veeleisend. Ons sal jou gebede in hierdie tyd baie waardeer!
Mag jy in hierdie dae uit Christus se oorvloed genade op genade ontvang (Joh. 1:16).
Vrede en vreugde
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk