“Soek eerder sy koninkryk.” (Lukas 12:31) — dit is die bevel van ons Here Jesus. Die “Koninkryk van God” is ons hoop, omdat die belofte van oorwinning in die Koninkryk van die Here Jesus Christus—die Koning wat die dood oorwin het—die bron is van die ewige lewe, onbeperkte vasberadenheid en bemoediging, en onfeilbare krag. “Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die koninkryk aan julle te gee.” (Lukas 12:32)
Die Christelike Gereformeerde Kerk in Japan het haar reis begin met ‘n “Stigtingsverklaring,” wat twee wesenlike oortuigings verkondig het: “’n God-gesentreerde lewens- en wêreldbeskouing,” en “’n sigbare kerk toegerus met ‘n geloofsbelydenis, kerkregering, en ’n lewe toegewy aan die Here.” Om dié God te dien wat in elke aspek van die lewe en van die wêreld leef en werk, en om ’n kerk op te bou wat God se reddende genade waardig is, bly ons onveranderlike roeping.
Tog is dit vandag, tagtig jaar ná ons stigting, nie altyd maklik om God se werk raak te sien in ’n wêreld wat geskud word deur opeenvolgende natuurrampe en oorloë nie. Ons kerke, veral ná die COVID-19-pandemie, worstel ook met dalende lidmaatskap en baie ander uitdagings. Onder hierdie omstandighede—waar mense van verskillende geslagte en agtergronde saamkom—word ons denominasionele identiteit opnuut bevraagteken.
Daarom bely ons, deur hierdie 80ste herdenkingsverklaring, dat ons met hernieude krag vorentoe te gaan. Ons bevestig ook daardeur watter soort kerk die RCJ is, en waartoe sy geroep is—deur te getuig vanuit die visie van die Koninkryk van God. Dit is ook ’n uitdaging vir ons om teen die sonde wat in ons aanwesig bly, te stry en weer vernuwe te word. Die Koninkryk van God, hier en nou.
Ons rig ons oë op die groot en magtige Koninkryk van God wat op die laaste dag ten volle verwesenlik sal word—’n koninkryk wat nasies, rasgroepe en tale oorskry. En selfs nou reeds bely ons saam met mense van alle nasies en geslagte: “VIR SY KONINKRYK — alles vir die Koninkryk van God.” Ons leef deur hierdie geloof.
In hierdie donker wêreld het die blink môrester verskyn—die Koninkryk van God deur ons Here Jesus Christus. “Die tyd het aangebreek; die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die goeie nuus.” Deur sy woorde en dade het die Here die koms daarvan geopenbaar, en die apostels het hierdie werk voortgesit deur “die koninkryk van God te verkondig en te leer aangaande die Here Jesus Christus.”
Daarom, hoe moeilik die tye ook al mag wees, draai ons nie ons oë weg van hierdie hoop nie. Terwyl ons voortdurend bid: “Laat u koninkryk kom,” sien ons uit na, én versnel ons die koms van die dag van God. Ons bly gerig op die voortsetting van die roeping van die kerk—om op aarde die Koninkryk van God sigbaar te maak wat in die eindtyd voltooi sal word. Kliek hier om verder te lees.



