Getuienis kollig | Kyoto kuns onnie word pastor

“Ná universiteit het ek ’n kunsonderwyser in Kobe geword. Maar hoe besiger ek geraak het, hoe minder het ek kerk toe begin gaan; my geloof het verswak, en ek het my begeerte verloor om God te volg. Ek het elke aand ná werk saam met vriende gaan drink. Tot my skaamte het ek eendag te veel gedrink, my bewussyn verloor, in ’n sloot geval en ’n ernstige besering aan my kakebeen opgedoen. Toe ek bykom, het ek besef ek lê in ‘n poel bloed in my kamer. Ek het my vuil en misvormde gesig in die spieël gesien en skielik helder besef: ‘Ek is ’n sondaar.’ Tot dan toe het ek gedink: ‘Ek is eintlik ’n redelike goeie mens.’ Maar op daardie oomblik het ek opreg gebid: ‘Here Jesus, vergewe my asseblief.’ Toe het die lewende Jesus sagkens in my hart gespreek: ‘Dít is waarom Ek vir jou gekruisig is.’ Trane het oor my wange gestroom, en ek het ’n vaste besluit in my hart geneem: ‘Van nou af sal ek my lewe leef deur Jesus te volg.’”

Aan die woord is ds. Minoru Yoshida, wat, nadat hy 23 jaar in ’n gemeente in Kobe gedien het, sedert 2020 die leraar is van RCJ Tajima Mikuni-gemeente. Die kerkgebou in die platteland van Wes Japan, waarin ons na sy getuienis geluister het einde 2025, was oorspronklik ’n tuinbou-winkel wat hulle tweedehands gekoop en opgeknap het. Die gemeente is tans besig met verdere bouwerk om ’n fasiliteit vir mense met intellektuele gestremdhede te skep, genaamd die ‘Koinonia-projek’, o.l.v. ds. Yoshida (sien foto van gebou onder).

Hy vervolg, “My roeping en bediening is diep gevorm deur een persoon wat God op ’n besondere manier oor my pad gebring het: ds. Tobie de Wet. Ek het hom ontmoet toe ek as ’n jong kuns student in Kyoto gewoon het. Elke Sondag het ek vroegoggend op my motorfiets saam met ’n vriend na die RCJ in Ōtsu gery, waar ds. de Wet die Woord bedien het. Sy prediking was helder, Skrifgetrou en deurdrenk van Christus se liefde. Maar dit was nie net sy preke wat my geraak het nie—dit was sy lewe. Hy het my dikwels na sy huis genooi. Annelie se warm gasvryheid en heerlike kookkuns, en ds. de Wet se eenvoudige, stille liefdesdiens—selfs in iets so nederig soos skottelgoed was—het my gewys hoe ’n Christelike gesin lyk wat deur die evangelie gevorm word. In daardie huis het ek die liefde van Christus gesien, nie net gehoor nie. Deur ds. de Wet het ek die lewende Jesus ontmoet—nie net as ’n leerstelling nie, maar as die Here wat sondaarmense liefhet en hulle roep om Hom te volg.

Jare later, toe God my deur moeilike tye lei—’n ernstige ongeluk, ’n seun met swaar outisme, en uiteindelik my roeping tot die bediening—het ek besef hoeveel van ds. de Wet se voorbeeld in my hart ingeplant is: nederige diens, liefde vir die swakkes, en ’n lewe gewortel in Christus. Dat hy weer na Japan teruggekeer het en steeds in Shikoku getrou dien, is vir my ’n besondere seën. Ek dank God vir sy lewe, sy bediening, en vir die genade wat deur hom tot my gekom het.”

Ds. Tobie en sy vrou Annalie de Wet se bediening in Japan het in 1974 begin en gaan steeds voort as Missie Japan sendelinge. Hulle voltooi binnekort ‘n driejaar termyn by RCJ Niihama gemeente en begin met ‘n nuwe termyn in April 2026 by RCJ Tokushima-Wes gemeente, DV. Lees meer hieronder oor die De Wets se opkomende besoek aan Suid-Afrika, hulle toekomstige werk in Japan, insluitend gebedsversoeke. Baie dankie vir elkeen se volgehoue ondersteuning! (Op die foto’s hierbo verskyn ds. Yoshida saam met besoekers uit die NG Kerk en die Reformed Church in Africa, wat einde Oktober 2025 die RCJ Tajima Mikuni gemeente besoek het om meer te leer oor die visie van die Koinonia Projek).

21 Januarie 2026

MISSIE JAPAN: NUUSBRIEF

Die Kerstyd was inderdaad ‘n besige, maar heerlike tyd! Ons groet u almal in die nuwe jaar en bid dat die hierdie jaar ook sal uitspeel in God se altyd teenwoordige vrede vir jou en jou geliefdes!

Hierdie kort nuusbrief se doel is juis om ons ondersteuners op hoogte te bring van al die verwikkelinge hier by Missie Japan veral rakende Tobie en Annalie de Wet. U sal onthou dat MJ verlede jaar ‘n versoek ontvang het van die Ring van Shikoku dat hulle vir ‘n volgende 3 jaar termyn sal aanbly in Japan. Die nuwe standplaas sal dan die gemeente van Tokushima-Wes (Seibu) wees. Hierdie skuif was onderhewig aan die Ring en gemeente se instemming sowel as die verlening van die De Wets se huidige werkpermit vir Japan.

Ons rapporteer graag dat al die nodige toestemmings verleen is en dat die werkpermit vir 3 jaar deur die Japan regering verleng is. Die De Wets sal dan met ingang April 2026 in diens wees by hulle nuwe standplaas in Tokushima-Wes (foto onder saam met gemeentelede).

Wat gebeur nou volgende?

Daar is eers ‘n tyd van oppak in Niihama en verhuis na Tokushima. Dan vertrek hulle na Suid Afrika vir ‘n 2 maande tyd van rus en familie besoek. Hier is ‘n kort program van hoe die De Wets se volgende 3 maande daarna uitsien:

      

• Program tot en met vertrek na SA: 

Normale weeklikse preek en Bybelstudie verpligtinge en afsprake

Sondag 1 Februarie: Stéphan (en gesin) besoek Niihama vir oulaas en preek.

Trek van meubels na Tokushima op Maandag 9 Februarie.

Reis na Tokushima om uit te pak, pastorie in te ruim, nodige ekstra huisraad aan te koop, asook alle nodige registrasies by die stadskantore te doen.

Sondag 15 Februarie: Afskeidspreek en ete by Niihama asook doop van Masatomi Nagano!

Daarna na Kobe via Tokushima om Vrydag 20 Februarie vanaf KANSAI, Osaka, te vertrek

.

• Program in Suid Afrika

Saterdag 21 Februarie arriveer in SA

Die 2 maande sal inhou:

Kuier  by familie in Durbanville en Stellenbosch, dan via Swellendam na Stilbaai wat as basis sal dien om daar familie en vriende te besoek.

Hulle sal ook verskeie afsprake maak met familie, vriende en ondersteuners waar moontlik.

Paspoorte, bestuurslisensies moet hernu word, persoonlike sake moet weer aandag geniet  en natuurlik moet dokters besoek word.

Rondom 20 April vertrek hulle weer terug na Japan

 

Finansies

MJ het hierdie versoek (vir ‘n 3 jaar verlenging) biddend oorweeg en goedkeuring gegee maar dit egter duidelik gemaak dat vir hierdie ‘n nuwe 3 jaar diens periode, volle finansiële ondersteuning vir De Wets net gegee kan word vir die eerste jaar van die beplande 3 jaar termyn. Dit sal impliseer dat die gemeente daar ‘n groter finansiële verpligting sal moet opneem vir die laaste twee jaar waartoe hulle ingestem het. MJ onderneem egter om nog steeds ondersteuning te verleen vir die 3 jaar en sal poog om in jaar 2 en 3, sover ondersteuners hulle weg oopsien om die ondersteuning voort te sit, finansieël by te dra tot die werk. Die besluit om langer in Japan te bly berus egter op die De Wets self – dit bly die keuse wat hulle voor die Here maak en ons sal hulle ondersteun in hierdie roepings reis.  

 

Ons sê vir elkeen van julle dankie vir:

–     Volgehoue ondersteuning deur gebede en finansies. U bydraes (saam met wat die De Wets persoonlik bydra) maak dit moontlik om die werk in Japan voort te sit.

–     Getroue meelewing met ons sendelinge in Japan (e-posse, WhatsApp boodskappe, oproepe, ens.)

–     Hulp met die besoeke, gasvrye ontvangs, skep van geleenthede vir kontak, gesprekke, vervoer en verblyf, en etes ens.

 

Ons vra ook met vrymoedigheid vir:

–     Volgehoue voorbidding vir die Van der Watts en die De Wets se bediening, werk en lewe.

–     Ons wil graag vra dat as u u weg oopsien, u vir die volgende 3 jaar steeds sal bydra tot hulle maandelikse onderhoud in Japan.

–     Spesifieke voorbidding vir die kerk in Japan.

–     Die proses om ‘n tweede sendeling paar te beroep vir werk in Japan saam met die Ring van Shikoku. (hierdie proses is steeds aan die gang en ons het tans nog geen konkrete aansoeke ontvang nie)

 

Groete in Christus Jesus, in verbondenheid.

Ds Johann Winterbach
(Voorsitter Missie Japan) 

Dr Nico Mostert
(Sekretaris Missie Japan)